Midsomerfees

Midsomerfeesvuur ("Juhannuskokko") in Pielavasi (Finland)
Midsomernag in Helsinki
Midsomerfeesviering met Måjstangen op die eiland Möja in die Stockholm-argipel
Die tradisionele feesvuur in die Bergense stadsbuurt Laksevåg
Foto: Nina Aldin Thune
'n Deense Sankt Hans-feesvuur met simboliese hekseverbranding
Roemeense Midsomerfeesvierings met dansende meisies in Sânziene- of elwe-kostuums

Die term Midsomerfees verwys na die feestelikhede wat orals in Europa, veral in die Nordiese lande (Denemarke, Finland, Noorweë en Swede), maar daarnaas ook in Estland, Letland en Litaue, Ierland, Cornwall, Frankryk, Italië, Malta, Portugal, Spanje, Kanada, die Verenigde State, Puerto Rico en selfs Brasilië, 'n land van die Suidelike Halfrond) op 24 Junie, die dag van die somer-sonstilstand in die Noordelike Halfrond, en op die voorafgaande aand plaasvind. In die Nordiese lande word die nagte tydens hierdie seisoen nouliks donker en staan derhalwe ook as "Wit Nagte" bekend.

Die Europese Midsomerfees met sy feestelikhede en tradisies het sy oorsprong in die Voor-Christelike tydperk, maar het as fees ter ere van Sint Johannes die Doper later ook 'n oppervlakkige Christelike karakter gekry. Volgens die Juliaanse kalender het die somer-sonstilstand op 24 Junie plaasgevind – die datum waarop die kerk die fees van Johannes die Doper gevier het. Die sterrekundige somer-sonstilstand vind in Sentraal-Europa egter op 21 (in buitengewone gevalle op 20) Junie plaas, die langste dag van die jaar.

Nieuheidense en ander groepe verwys na die fees ook as Litha, 'n term wat uit die Angel-Saksiese teoloog en geskiedskrywer Beda Venerabilis se werk De temporum ratione afgelei is. Beda het die Angel-Saksiese name vir die maande, wat min of meer met Junie en Julie ooreenkom, as "se Ærra Liþa" en "se Æfterra Liþa" gegee (letterlik "die vroeë Litha-maand" en "die latere Litha-maand"), met 'n skrikkelmaand ("Liþa") ná Æfterra Liþa in skrikkeljare. Die vuurfees of Lith-Somerstilstand is 'n tradisionele fees vir talle Heidense religies.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search